Teorie van Verandering (TvV)

TOV-fin

Die situasie

Net meer as die helfte van Suid-Afrika se populasie van sowat 53 miljoen mense leef onder die broodlyn. Dit beteken dat ‘n persoon van +/- R 25 per dag of gemiddeld R 770 per maand moet leef. Bykans ‘n kwart (22%) van die bevolking gaan waarskynlik saans honger slaap, aangesien hulle op ongeveer R11 per dag of R335 per maand, per persoon1 moet oorleef. Omtrent 16 miljoen mense leef van maatskaplike toelaes2 en min of meer 8.9 miljoen Suid-Afrikaners kan en wil graag werk, maar kan nie werk kry nie3. Die werkloosheidsvlak onder jong mense is omtrent 45% en vlakke van armoede onder die jeug lyk baie dieselfde as dié van hulle ouers se generasies4.

Armoede, werkloosheid en lae vlakke van onderwys gaan hand-aan-hand en ons vind in Suid-Afrika dat die vlakke van werkloosheid en opleiding sterk verskil afhangende van die populasiegroep waaraan mense behoort. Deur die nalatenskap van Apartheid is swart en gekleurde mense baie meer geneig om werkloos te wees met laer vaardigheidsvlakke as wit en Indiese mense5.

Die grootste probleem, asook die wortel van verskeie ander probleme wat daarmee gepaardgaan, is ongelykheid en ongelyke geleenthede. In Suid-Afrika word daar jaarliks gemiddeld ‘n miljoen babas gebore. As daar gekyk word na die huidige stand van sake, gaan minder as die helfte van hierdie kinders eendag Matriek suksesvol voltooi. Dit gaan min of meer as volg verloop: As tien kinders in enige gegewe jaar met Graad 1 begin, kan ‘n mens verwag dat vyf van hulle Matriek gaan skryf, drie gaan dit slaag en net een kind gaan Wiskunde met 50% deurkom6. Dit spreek van ‘n groot hoeveelheid menslike potensiaal wat verlore gaan en ons is bewus daarvan dat die vlakke van werkloosheid verminder soos wat die vlakke van onderwys verhoog word.

Die impak

‘n Mens moet egter ‘n dieper begrip van die realiteit as net hierdie statistiek hê.

Siyabonga Mbaba van Khayelitsha word vanjaar 23 jaar oud. Hy is ongelooflik talentvol en wil graag ‘n loopbaan in die uitvoerende en beeldende kunste volg. Hy het egter nie Matriek geslaag nie en het weinig geleenthede om sy passie uit te leef en ‘n lewe daarvan te kan maak. Ten spyte hiervan, is hy tog hoopvol. Lees ‘n paar aanhalings uit ‘n onderhoud met hom hier.

Siyabonga

Siyabonga se verhaal illustreer dat hierdie nie net ‘n welsynskwessie is nie. Dit is die storie van menslike potensiaal wat verlore gaan. Dit is die storie van die frustrasie van talentvolle, intelligente mense wat dit waag om te droom en te hoop, maar vir wie die deure toe bly. Dit is die storie van mense wat omgee vir mekaar en die beste vir mekaar wil hê, maar nie die netwerke en hulpbronne tot hul beskikking het om dit te kan doen nie. Hulle doen egter wat hulle kan met wat hulle het. Baie mense soos Siyabonga se ma sloof hulle af vir die kleinste geleenthede vir hulle kinders. Dit moet swaar wees om telkens te sien hoe dit nie genoeg is om jou kinders uit die siklus van armoede te lig nie.

Hoe kan ons dinge verander?

Kliek hier vir ‘n illustrasie wat die essensiële punte in een kleurvolle bladsy saamvat en maklik is om te verstaan.

Verskeie aspekte, soos ons swak onderwyssisteem, te klein ekonomie, ens. word geblameer vir hierdie stand van sake. Armoede en ongelykheid is verseker ‘n gekompliseerde probleem wat deur die sameloop van verskeie veranderlikes veroorsaak word. Die ekonoom en Nobelpryswenner, James Heckman, het egter bewys dat die tydperk waarin ons die grootste verliese in terme van menslike potensiaal ly, gedurende die vroeë kinderjare voorkom.

Met geboorte is die brein die enigste orgaan wat nog nie ten volle ontwikkel is nie. Kritiese breinontwikkeling vind gedurende die eerste 1 000 dae plaas. Hierdie 1 000 dae strek vanaf bevrugting tot en met ‘n kind se tweede verjaarsdag. Gedurende hierdie tydperk word belangrike netwerke vir verskeie areas van funksionering soos sig, gehoor, taal en hoër kognitiewe denke in die brein gevorm. Alhoewel ons brein kan groei en verander deur ons hele lewe, is die basiese struktuur 80% voltooid wanneer ‘n kind die ouderdom van vyf jaar bereik. Gedurende hierdie tyd internaliseer kinders ook belangrike kennis oor die wêreld wat hulle karakter en gedrag lewenslank sal beïnvloed, soos om ander mense te vertrou of nie en op hierdie wyse word die fondasies vir hulle toekomstige sosiale bevoegdheid gelê.

Daar is slegs vier elemente nodig om seker te maak dat hierdie ontwikkeling optimaal plaasvind. Hierdie vier elemente is liefde, veiligheid, voeding en stimulasie. Statisties in ons land is daar ‘n groot kans dat party babas wat gebore word ‘n oorvloed van al hierdie elemente gaan beleef, terwyl ander se lewenspotensiaal reeds vroeg ingeperk word omdat hulle nie voldoende toegang tot hierdie elemente het nie. Daar word dus vroeg ‘n gaping tussen die babas ‘wat-het’ en dié ‘wat-nie-het-nie’ geskep.

Met verloop van tyd gaan die babas se blootstelling aan taal en boeke die gaping tussen hulle vergroot óf dit kan die sleutel wees om die gaping te verklein. Kleuters wat meer blootgestel word aan taal en lees, ontwikkel ‘n groter woordeskat en lees dus makliker wanneer hulle skool toe gaan. Teen die tyd dat kinders wat professionele ouers het die ouderdom van drie jaar bereik, het hulle reeds 30 miljoen woorde meer gehoor as kinders van ouers wat welsynvoordele eis7. ‘n Mens kan die effek hiervan reeds vroeg opmerk. ‘n Impakstudie van Graad R, wat juis geïmplementeer word om minderbevoorregte kinders te help om gereed te wees vir Graad 1, het gevind dat Graad R skaars ‘n verskil maak vir die kinders wat grootword in die armste huise8.

Tot en met Graad 3 leer kinders om te lees, maar daarna moet hulle met begrip kan lees om te kan leer. Hoe meer hulle sukkel om te lees, hoe meer sukkel hulle om hul skoolwerk te verstaan. So word die gaping tussen hierdie twee stelle kinders al hoe groter. Dit is een van die faktore wat die ongelykheid in ons samelewing aanhou herskep, generasie na generasie.

Dit is egter ook ‘n geleentheid om ons land werklik te begin verander. As ons begin belê in die ontwikkeling van al Suid-Afrika se kinders, kan ons kind-vir-kind begin om die saadjie van ‘n meer gelyke, regverdiger samelewing te saai en te help groei. Daar is eenvoudige dinge wat ons almal kan doen om seker te maak dat kinders meer toegang het tot dié dinge wat hulle sal help om optimaal te ontwikkel en sodoende hul lewenspotensiaal eendag te kan bereik.

Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

  • Om ‘n swanger of nuwe mamma gedurende die eerste 1 000 dae van haar baba se ontwikkeling te ondersteun.
  • Om te help dat meer babas en kleuters aan voorlees blootgestel word. Een van die grootste geskenke wat ons aan ‘n ander persoon kan gee, is ‘n liefde vir lees en boeke. Navorsing het getoon dat lees vir plesier ‘n groter impak op akademiese prestasies het as die sosio-ekonomiese status van ouers9!
  • Ons kan help om geleenthede vir vroeë stimulasie te skep. Selfs informele geleenthede soos speelgroepies kan van groot waarde wees as dit reg benader word10.
  • Ons kan seker maak dat ons ‘n netwerk van sorg en ondersteuning vir die ontwikkeling en welstand van kinders in Suid-Afrika skep met geleenthede vir almal in die gemeentskap om betrokke te raak.