Leer meer

leer-meer-fin

Wat is Vroeë Kindontwikkeling?

Vroeë Kindontwikkeling verwys na die periode tussen bevrugting en die ouderdom van ses jaar wanneer die kind Graad R toe gaan. Hoewel individuele kinders teen hul eie pas ontwikkel, gaan alle kinders deur ‘n reeks identifiseerbare fisiese, kognitiewe en emosionele fases van groei en verandering. Medici is dit eens dat die heel belangrikste ontwikkelingstydperk van babas gedurende die eerste 1 000 dae plaasvind. Die ontwikkeling van die kind se brein vorm die grondslag vir alle toekomstige leer, hul gedrag en gesondheid. Navorsers het gevind dat babas en klein kinders se fisiese en emosionele gesondheid deur vier boustene bevorder word:

  1.  Goeie voeding
  2.  Liefde
  3.  Veiligheid
  4.  Stimulasie

Waarom is die ‘Eerste 1 000 Dae’ van ‘n baba se lewe so belangrik?

Die Eerste 1 000 Dae verwys na die tydperk vanaf bevrugting tot en met die ouderdom van twee jaar. Volgens wetenskaplikes ontwikkel ‘n baba se brein gedurende hierdie tydperk vinniger as op enige ander stadium van sy lewe. Hierdie breinontwikkeling en die kind se ervarings vorm die basis vir sy emosionele, intellektuele, sosiale en fisiese ontwikkeling. Die jong brein het ‘n hoë plastisiteit wat na die brein se aanpassingsvermoë verwys. Dit is ook die rede waarom Vroeë Kindontwikkeling so belangrik is. As ons die statistiek van 52% leerders wat die skool voor Matriek verlaat omdat hulle nie die gewenste vordering toon nie wil verander, moet ons hierdie kinders bereik en ondersteun in die periode wanneer hul breinplastisiteit die hoogste is. Aangesien dit die tyd is waarin die breinstruktuur die meeste ontwikkel, sal dit hulle leervermoëns en kans op skolastiese sukses dramaties verbeter. Die eerste 1 000 dae bied die meeste potensiaal vir ouers om hul kind se breinontwikkeling en hul hele toekoms te beïnvloed.

Waarom is vroeë taalontwikkeling so belangrik?

Een van die belangrikste maniere hoe ons kan voorkom dat kinders met agterstande nóg verder agter raak, is deur die ontwikkeling van hul taal- en leesvaardighede te ondersteun. Die mate waartoe kinders se taalvaardighede ontwikkel is ‘n sterk aanduiding van hul toekomstige akademiese sukses, die vlak van onderrig, indiensneming en hul vermoë om ‘n inkomste te verdien, asook die vlak van inkomste. Lees is ‘n kragtige manier om armoede en ongelykheid te verminder. Wanneer kinders vir plesier lees het dit ‘n groter effek op hulle opvoedkundige prestasie as hul familie se sosio-ekonomiese status. Navorsing toon dat kinders met professionele ouers reeds 30 miljoen woorde meer gehoor het teen die tyd dat hulle die ouderdom van drie jaar bereik, as kinders van ouers wat welsynsvoordele eis. ‘n Groter woordeskat help ook kinders om makliker te leer lees wanneer hulle skool toe gaan. Teen die ouderdom van elf jaar moet kinders met begrip kan lees om hul skoolwerk te kan verstaan. In Suid-Afrika is ongeveer 29% van kinders teen die ouderdom van dertien jaar steeds funksioneel ongeletterd. In landelike gebiede is die statistiek veel erger met ongeveer 58% kinders wat steeds funksioneel ongeletterd is wanneer hulle die ouderdom van dertien bereik. Funksionele ongeletterdheid beteken dat kinders nie begryp wat hulle lees nie, dit is dus onmoontlik vir hulle om akademies goed te presteer. Belangrike deure vir hulle toekoms word dus permanent toegemaak.

Die impak van ongelykheid en armoede op kinders se ontwikkeling

Armoede en ongelykheid verhoog die risiko’s vir die ongebore baba en haar kanse om te ontwikkel tot ‘n gelukkige en gesonde volwassene met gelyke kanse op sukses in die lewe. Verskeie veranderlikes dra tot hierdie situasie by, bv. die gebrek aan materiële hulpbronne vir basiese en ander behoeftes, beperkte inligting en ondersteuning en die swak sosiale omstandighede wat gereeld in situasies van armoede en ongelykheid gevind word. As ons die kringloop van armoede en verlore mense-potensiaal wil breek, moet daar vanaf bevrugting op die ontwikkeling van die baba gefokus word.

Ongebore babas se breinontwikkeling word veral negatief beïnvloed deur die volgende faktore:

  1.  Swak voeding, rook en lae geboortegewig: Wanneer ‘n fetus nie genoeg voedingstowwe ontvang nie, kan permanente veranderinge in die struktuur en die metabolisme van die fetus en haar breinstruktuur plaasvind. Hierdie permanente veranderinge het ‘n negatiewe invloed op die baba se gesondheid, leervermoëns en potensiaal as kind en volwassene.
  2. Middelmisbruik: Die gebruik van alkohol, dwelms en medikasie wat nie deur ‘n gesondheidswerker voorgeskryf is nie, kan tot ernstige geboortedefekte (fetale alkoholsindroom), ingeperkte groei en selfs gedragsafwykings by kinders lei.
  3. Toksiese stres, depressie en huishoudelike geweld tydens swangerskap: Die swanger moeder se emosionele toestand het ‘n invloed op die kind se emosionele welstand later in sy lewe. Wetenskaplikes het vasgestel dat kroniese stres as gevolg van erge armoede en mishandeling baie nadelig is vir die ontwikkelende brein. Die term “toksiese stres” word gebruik om na hierdie verskynsel te verwys. Die breinskade wat deur toksiese stres veroorsaak word, lei tot lewenslange leer- en gedragsprobleme, sowel as swak fisiese en geestesgesondheid.