Vrygemaak… daarom gee ons om

Vrygemaak… daarom gee ons om

Liefhê, omgee, barmhartigheid bewys, versorg en skuiling bied is vir ons onlosmaaklik deel van Christen-wees. In ons viering van die Reformasie in 2017 word ons opnuut herinner in watter teologiese oortuigings hierdie lewensdeugde ingebed is en uit watter plek ons leef tot diens van God en ons naaste – die plek van vryheid.

Die Goeie Nuus

Die Reformasie was nie ʼn tydperk in die geskiedenis waartydens gelowiges iets nuuts uitgedink het nie. Dit was ʼn tyd toe, binne ʼn spesifieke konteks, weer nuut geluister is na die Goeie Nuus van die Evangelie. Een van die kernwaarhede wat die Hervormers weer in die Skrif ontdek het, is dat ons vry is in Christus. Ons vryheid word dan die plek van waaruit ons God en ons naaste dien.

Hoekom sorg ek vir ander?

Die Rooms-Katolieke Kerk het, in die tyd van Martin Luther en ander Hervormers, moeite gedoen met die armes. Die gee van aalmoese was diep ingebed in die kerklike instituut en die samelewing. Ons moet onthou dat die feodale tipe samelewing (ryk landhere en arm bywoners) van die sestiende-eeuse Europa, sowel as gebeure soos natuurrampe, plae en oorloë ʼn groot gros mense op die rand van die samelewing geplaas het. Hulle was afhanklik van hierdie aalmoese. Maar, agter hierdie aalmoese het ʼn spesifieke beweegrede gesit, wat deel geword het van die godsdienstige atmosfeer van die dag. Die gee van aalmoese was ingeweef in ʼn teologiese raamwerk wat verkondig het dat dit meewerk tot jou saligheid. Dat jy daarvoor beloon sal word. Jy investeer as’t ware in die hiernamaals. Bedelaars is gehelp, want dié hulp het die gewer weer gehelp om binne die groter godsdienstige wêreldbeeld punte vir saligheid te verdien.

Dit is juis op die gebied van beweegredes dat die Hervormers ʼn ander perspektief in die Skrif ontdek het: Ek help nie sodat ek beloon word nie. Ek gee omdat ek vry is om te kan dien en ook omdat ek die beeld van God in die ander kan raaksien. Dít het die eintlike motivering geword.

Is dit nie so dat, as ons met onsself doenig is, ons diegene om ons miskyk nie? Ons kan op verskillende maniere met onsself opgeskeep wees: Ontevrede wees met omstandighede, ons met ander vergelyk of ten diepste dink ons is nie goed genoeg nie. Ons kan dink dat God en ons naaste dink ons skiet tekort. Eintlik kan ons net omgee as ons kan wegkyk van onsself en op God en ander fokus. Calvyn skryf: “Ons moet sulke kinders wees wat vas vertrou dat ons allergenadigste Vader al ons diens sal goedkeur, hoe gering, hoe grof en onvolmaak dit ook al is.” (Institusie 3.19.5)

Omgee word dan een van die gesigte van hierdie heilige vryheid. Daar is baie woorde wat met “omgee” vervang kan word: Ons het lief, ons het deernis, ons is barmhartig, ons troos, ons bedien, ons help. Dit behels egter ook daadwerklike optrede en die opstel van ordes en reëlings om die diens te verseker.

ʼn Gemeenskapskas

Luther het byvoorbeeld in 1521 ʼn Beutelordnung daargestel. Dit is ʼn orde wat te make het met ʼn gemeenskapskas waarin die kerk, gildes en ander broederskappe geld geplaas het wat dan aangewend is om diegene in nood te help. Bedelary is byvoorbeeld nie net as ʼn gegewe aanvaar nie. Mense is aangemoedig om te werk en slegs dié wat nie na hulle self kon kyk nie, is gehelp. Rentevrye lenings is gegee aan mense van arm afkoms wat ambagte wou beoefen en moeite is gedoen om die arm kinders skool toe te stuur. Luther se teologiese motivering was dat alle goeie dinge uit Christus in ons ingevloei het sodat dit weer uit ons na dié kan vloei wat dit nodig het.

Die skoonheid van God se beeld in my naaste

Johannes Calvyn het ʼn hart vir vlugtelinge gehad. Ons vergeet soms dat hy self ʼn Franse vlugteling was en ʼn gemeenskap van vlugtelinge in Genève bedien het – mense wat vanweë hulle Protestantse oortuiging nie kon terugkeer na hulle geboorteland nie. Calvyn het ook altyd goeie mensekennis in sy geskrifte openbaar. Hy het geweet dat ons moeg word om goed te doen en dat goed doen moeite is. Tog herinner hy sy gehoor daaraan dat ons goed doen omdat ons Christus se beeld in die ander herken: “Om verder te verhoed dat ons moeg sal word om goed te doen … Die Skrif leer ons dat ons noukeuriger daarop moet let in die geval van geloofsgenote in soverre die beeld van God deur die Gees van Christus weer nuut gemaak en herstel is. Gevolglik het jy geen rede om te weier om iemand, wie hulle ook al is, te help wanneer hulle op jou pad kom en jou hulp nodig het nie.” (Institusie 3.7.6) Hy doen moeite om die ander of die vreemdeling uit te beeld as iemand wat moontlik vir jou tot aanstoot is. Tog, as ons die beeld van God in hom of haar raaksien: “… lok die beeld ons deur skoonheid en waardigheid om hulle lief te hê en te omhels.”

Konkrete diens

Die Hervorming help ons om die genade-boodskap van vryheid en verlossing die plek te maak waaruit ons dien. Die goeie van God vloei deur ons na ander, die ander se skoonheid in Christus word erken. Nie omgee as ʼn verpligting nie, of iets om voor beloon te word nie. Dit is juis in ons gebrokenheid wat ons vryheid in Christus vind. Daarom het ons Protestantse tradisie nog altyd baie erns gemaak met opvoeding en die skep van maatskaplike organisasies. Ons skep programme, mense en geboue in om nood te verlig. Hierdie konkrete diens is gebore uit ʼn gelatenheid en vryheid wat gewortel is in ʼn sekerheid van God se goedheid en Christus se vryspraak.

Gedagtes vir nadenke

  1. Lees Efesiërs 2:1-10. Kyk hoe Paulus sy gehoor herinner dat hulle status die van dooies was, hoe God in Christus hulle uit genade gered het. Daarom kan ons die goeie dinge waartoe God ons geskep het (vers 10) as vrye mense doen. Dink na oor “omgee” as deel van jou gemeente se “bedoeling”.
  2. Wat is die konkrete maatskaplike nood in jou omgewing? Hoe help die lens van vryheid en diens om jou nuut daaroor te laat dink en daarop te reageer?
  3. Hoekom sukkel ons om God se beeld in mense raak te sien?
  4. Wat is die plek waaruit jy diens beoefen? ʼn Plek van vryheid of van skuld en verpligting?
  5. Bid vir konkrete idees om programme te skep om nood te verlig.

Deur Lisel Joubert

2017-05-06T14:04:51+00:00 6 Mei 2017|Categories: Artikels|